26.8.11

Duisendpoot

Klam
blink die boom se stam.
Reënwater biggel
teen die growwe bas,
plas
op die dik mat dooie blare
en tussen yl, gemufte gras.

Geel
soos ‘n helder vlam
woeker die waaiervorms
van ‘n swam
teen die bisarre wortels:
die suiwer kleur
gebrandpunt
teen die halflig van die bos.

‘n Duisendpoot loop haastig,
die enigste beweging in die stil toneel.
Die rye pote soos ‘n sagte golf:
klein sneltrein deur die miniatuurterrein.

Dan hou hy skielik stil
om met sy voelers
in die lug te tas.

Net vir ‘n oomblik
staan hy so:
met al die inligting verwerk,
hervat hy weer sy pas.

Ewigheid

Die ewigheid, het ek gedink
sal sterre wees wat altyd blink
bokant ons, die slapendes
onder ‘n grys rondaweldak.

En stilte wat spiraal
en uitblom tot ‘n parabool
bokant die vlaktes
van ‘n windoorstroomde,
ysbedekte pool.

Rivier, circa 1972

Om my - ek sit op droë klippe -
en onder my - hier maak ‘n rots ‘n growwe brug -
maal en kolk, snel, gorrel, skuim en spat
die donker water van die Maritsane.

Biesies beef gespanne, pluime van die riete wuif
langs en binne hierdie water,
elk met ‘n eie ossilasiespoed:

onbeïnvloed deur die baie jare
soos lank reeds voor my wonderlike somermiddag hier en nou,
toe hierdie fluisterende witstinkhoutgewelf bo my
nog spikkelkodes was in pas ontkiemde saad.

Hier is rus.
Hier is die tyd in datumlose
groot herhaling
vir die enkeling
slegs sigbaar in die wisseling
van

die subtropiese seisoene
die opkoms en die ondergaan van sterrebeelde
die son se talle sagte tinte
en

die tydlose beligting
van die onbeskryflike
diep asemende
blou, blou volmaannag.

(Die tydspan
van my oorstelpte troos en vreugde
in hierdie mens-ononderbroke plek
is in die geskiedenis van stroom
en klippe en beboste oewer
vlietend soos ‘n blaar wat val)

maar in my gemoed
bly dit vir altyd.
Hierheen kom ek alleen in my gedagtes
oor die sandwal van die tyd
terug.

Bosbokrand

Die wêreld was so blou en groen
en elke somer welig en vol son;
die veld die ene ryk verrassing
van peule, vrugte, klip en wilde blom.

En herfs hou ‘n soort weemoed vas
gemeng met troos
- dis vreemd as jy dit skryf of sê -
tussen die heuwels, donghas, gras
van hierdie plek wat altyd vaste baken was.

Die berge lê steeds uitgestrek
in blou, blou vertes van die helder wintersonlig.
Soos altyd ruis die water van die Maritsane
en dra die wind die kruiegeure
van musudzungwane.

‘n Plek soos dié bly lewenslank ‘n deel van jou
as jy eers daar gehoort het.
Sy landskappe, sy wye maanlig
bly jou by.
En na jy al op baie ander plekke was
sal steeds ‘n pad jou stil-stil soontoe lei.

3.6.11

Oranjerooi

Oranjerooi.
Die bosveldson het goud gestrooi
oor digte, donker dorings
en oor verlate veld.

Die sekelmaan
het oor die wye land gegaan:
Mooinooi, Marikana, Maanhaarrand ...