3.3.12

Laeveldse winter

Nou hang die son reeds vroeër
laer oor die gryser berg.
Die weelderige somer het
‘n ryk nalatenskap laat bly
in geel en oker velde ruie gras
en in die rypende rooi doringpeule,
gebrandskilder
en om en om geraam in porseleinblou lug.

Die sonstand kantel met die maande
en dit wat suidelik geleë is
dwing na die ruim se dieper koue.

Deur skadu’s van die skraler middag
rafel rook oor koesterende krale
en oor die uitgestrekte vlakte flikker dit
waar wintervure later in die kouer nagte brand:

‘n yl weerkaatsing van die melkweg
se wye yskoolgloede
ver uitgestrooi
oor die nag se swart, swart werf.

Geen opmerkings nie: