15.5.12

Veldbrand

Die middag was onrustig
met voëls wat styg en draai,
en in die stilte het die spanning opgelaai,

totdat die luggie wat bly stoot het
skielik grom
en uit die noorde waai.

Die brand het brullend opgespring
en vlamme teen die bulte uitgejaag
om alles in ‘n woedende verwoestingsvlaag
te vreet en te verteer.

Maar toe die spanne slaners
laatskemer huis toe strompel,
het die uitgespaarde weiding
in die reën wat wyd, genadig uitsak

na lenteveld geruik.

13.5.12

Lourenço Marques, 1964

Die see het ver teruggetrek.
‘n Groot stuk sand lê bloot:
die bodem onder die oop hemel glinsterend,
vol vreemde vondste wat nog baie later
in plastieksakke in die binneland
in war versamelings, na see sal ruik.

Maar nou is hierdie ebgety se riffelvlakte
vol huppelende kinders, hoor jy hulle
opgewonde babbel: Mamma, Pappa, kyk!

En wanneer wiere, skulpe en ander see-aandenkings
al lank vermurwe en versplinter het,
sal helder beelde flits in harte wat
dekades later sal onthou:

die mans se opgerolde broekspype,
die wapperende bloese van die vrouens,
die bries wat rukke landwaarts waai en
elke opgespatte druppel lig en dra …

die helder son wyd oor die donker kus van Afrika.

8.5.12

Vroegoggend

Die sonlig vind sy pad
en vlek die ou bruin stamme met 'n nuwe geel,
flits deur die donker blare wat
wiegend en ritselend die ligspel speel
en met hul sagte skadu's oor
die barste in die growwe bas bly streel.

7.5.12

Suidkusreën

Dit reën
oor die see
oor die strand
en wildepiesangs teen die rant.

Dit reën
oor die suikerrietland.

Dit reën
aaneen.