20.3.13

Somerstorm

Eensklaps sou dit rondom stil word:
die water van die kuile in die vlei spieëlglad
en tot daar diep onder
donker;
die veld asof dit luister
(net die gras se fynste pluime sou afwagtend roer).

Dalk sou ‘n kriek vraend,  onseker,
‘n halwe frase van ‘n tjirp nog noueliks laat hoor
terwyl die grond rondom
skielik sy sonligkleur verloor.

Die wolke sou aanstorm met ‘n wilde vaart
en tot ‘n toring stapel, maal,
uiteindelik stroom tot reuse flarde
veel verder boontoe in die hoë wind
(en alles byna sonder ‘n geluid).

Maar skielik vind
die storm sy stem
en jaag ‘n vlaag deur veld en bos
en laat die weerlig flitsend slag ná blinde sweepslag
oor die krom rûe van die heuwels los.

Oomblikke later skeur ‘n reep
deur daardie donker lugte
en dit reën
met ‘n geluid soos van ‘n sluis wat oopgedraai word
wyd omheen.