Wys tans plasings met die etiket spesifieke plek. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket spesifieke plek. Wys alle plasings

2.11.13

Die Stad -Theodor Storm

Langs die grys strand, langs die grys see,
half eenkant lê die stad;
waar newels oor die dakke vee
en deur die stilte druis die see
aaneen, al óm die stad.

Geen woud ruis hier, geen voël roep ooit
die maat wat by hom pas;
net in die herfs die kras gekrys
wanneer die trekgans deurnag reis
en strandlangs swiep die gras.

Tog klou my hele hart aan jou,
grys stad daar langs die see;
die tower van my jeug sal bly
en soos ʼn glimlag rus op jou, my
grys stad langs die see.
(Afrikaanse vertaling deur Harald Thiede)

Die Stadt -Theodor Storm

Am grauen Strand, am grauen Meer
und seitab liegt die Stadt;
der Nebel drückt die Dächer schwer,
und durch die Stille braust das Meer
eintönig um die Stadt.

Es rauscht kein Wald, es ruft im Mai
kein Vogel ohn' Unterlaß;
die Wandergans mit hartem Schrei
nur fliegt in Herbstesnacht vorbei,
am Strande weht das Gras.

Doch hängt mein ganzes Herz an dir,
du graue Stradt am Meer;
der Jugend Zauber für und für
ruht lächelnd doch auf dir, auf dir,
du graue Stadt am Meer.

20.3.13

Somerstorm

Eensklaps sou dit rondom stil word:
die water van die kuile in die vlei spieëlglad
en tot daar diep onder
donker;
die veld asof dit luister
(net die gras se fynste pluime sou afwagtend roer).

Dalk sou ‘n kriek vraend,  onseker,
‘n halwe frase van ‘n tjirp nog noueliks laat hoor
terwyl die grond rondom
skielik sy sonligkleur verloor.

Die wolke sou aanstorm met ‘n wilde vaart
en tot ‘n toring stapel, maal,
uiteindelik stroom tot reuse flarde
veel verder boontoe in die hoë wind
(en alles byna sonder ‘n geluid).

Maar skielik vind
die storm sy stem
en jaag ‘n vlaag deur veld en bos
en laat die weerlig flitsend slag ná blinde sweepslag
oor die krom rûe van die heuwels los.

Oomblikke later skeur ‘n reep
deur daardie donker lugte
en dit reën
met ‘n geluid soos van ‘n sluis wat oopgedraai word
wyd omheen.

13.5.12

Lourenço Marques, 1964

Die see het ver teruggetrek.
‘n Groot stuk sand lê bloot:
die bodem onder die oop hemel glinsterend,
vol vreemde vondste wat nog baie later
in plastieksakke in die binneland
in war versamelings, na see sal ruik.

Maar nou is hierdie ebgety se riffelvlakte
vol huppelende kinders, hoor jy hulle
opgewonde babbel: Mamma, Pappa, kyk!

En wanneer wiere, skulpe en ander see-aandenkings
al lank vermurwe en versplinter het,
sal helder beelde flits in harte wat
dekades later sal onthou:

die mans se opgerolde broekspype,
die wapperende bloese van die vrouens,
die bries wat rukke landwaarts waai en
elke opgespatte druppel lig en dra …

die helder son wyd oor die donker kus van Afrika.

8.5.12

Vroegoggend

Die sonlig vind sy pad
en vlek die ou bruin stamme met 'n nuwe geel,
flits deur die donker blare wat
wiegend en ritselend die ligspel speel
en met hul sagte skadu's oor
die barste in die growwe bas bly streel.

14.3.12

Stranding weens papwiel

Wit sandpad.
Die wind wat
in donker piesangblare kolk
en deur die hoë drade suis.

‘n Hadeda wat skree.
Klein stofvaal kindertjies
wat uitgelate
antwoord gee.

26.8.11

Rivier, circa 1972

Om my - ek sit op droë klippe -
en onder my - hier maak ‘n rots ‘n growwe brug -
maal en kolk, snel, gorrel, skuim en spat
die donker water van die Maritsane.

Biesies beef gespanne, pluime van die riete wuif
langs en binne hierdie water,
elk met ‘n eie ossilasiespoed:

onbeïnvloed deur die baie jare
soos lank reeds voor my wonderlike somermiddag hier en nou,
toe hierdie fluisterende witstinkhoutgewelf bo my
nog spikkelkodes was in pas ontkiemde saad.

Hier is rus.
Hier is die tyd in datumlose
groot herhaling
vir die enkeling
slegs sigbaar in die wisseling
van

die subtropiese seisoene
die opkoms en die ondergaan van sterrebeelde
die son se talle sagte tinte
en

die tydlose beligting
van die onbeskryflike
diep asemende
blou, blou volmaannag.

(Die tydspan
van my oorstelpte troos en vreugde
in hierdie mens-ononderbroke plek
is in die geskiedenis van stroom
en klippe en beboste oewer
vlietend soos ‘n blaar wat val)

maar in my gemoed
bly dit vir altyd.
Hierheen kom ek alleen in my gedagtes
oor die sandwal van die tyd
terug.

Bosbokrand

Die wêreld was so blou en groen
en elke somer welig en vol son;
die veld die ene ryk verrassing
van peule, vrugte, klip en wilde blom.

En herfs hou ‘n soort weemoed vas
gemeng met troos
- dis vreemd as jy dit skryf of sê -
tussen die heuwels, donghas, gras
van hierdie plek wat altyd vaste baken was.

Die berge lê steeds uitgestrek
in blou, blou vertes van die helder wintersonlig.
Soos altyd ruis die water van die Maritsane
en dra die wind die kruiegeure
van musudzungwane.

‘n Plek soos dié bly lewenslank ‘n deel van jou
as jy eers daar gehoort het.
Sy landskappe, sy wye maanlig
bly jou by.
En na jy al op baie ander plekke was
sal steeds ‘n pad jou stil-stil soontoe lei.

3.6.11

Oranjerooi

Oranjerooi.
Die bosveldson het goud gestrooi
oor digte, donker dorings
en oor verlate veld.

Die sekelmaan
het oor die wye land gegaan:
Mooinooi, Marikana, Maanhaarrand ...