3.2.19

Grys middag

Grys middag.
Die donker bloekombome swyg - omgewe
van die balsemsoet van hulle blaregeur.

Niks is op hierdie oomblik
dringend of belangrik nie.

Behalwe om
vanuit die skemer van 'n stoep te tuur
na waar die newels
oor die heuwels kruip.

En om te luister
na die motreën
en die fluitgeluide
van klein paddatjies.