26.8.11

Rivier, circa 1972

Om my - ek sit op droë klippe -
en onder my - hier maak ‘n rots ‘n growwe brug -
maal en kolk, snel, gorrel, skuim en spat
die donker water van die Maritsane.

Biesies beef gespanne, pluime van die riete wuif
langs en binne hierdie water,
elk met ‘n eie ossilasiespoed:

onbeïnvloed deur die baie jare
soos lank reeds voor my wonderlike somermiddag hier en nou,
toe hierdie fluisterende witstinkhoutgewelf bo my
nog spikkelkodes was in pas ontkiemde saad.

Hier is rus.
Hier is die tyd in datumlose
groot herhaling
vir die enkeling
slegs sigbaar in die wisseling
van

die subtropiese seisoene
die opkoms en die ondergaan van sterrebeelde
die son se talle sagte tinte
en

die tydlose beligting
van die onbeskryflike
diep asemende
blou, blou volmaannag.

(Die tydspan
van my oorstelpte troos en vreugde
in hierdie mens-ononderbroke plek
is in die geskiedenis van stroom
en klippe en beboste oewer
vlietend soos ‘n blaar wat val)

maar in my gemoed
bly dit vir altyd.
Hierheen kom ek alleen in my gedagtes
oor die sandwal van die tyd
terug.

Geen opmerkings nie: